NEWS | Latest news articles

NAMPO staan na vyf dekades steeds sterk

  • 28 April 2016
  • 1804
  •  Grain SA
  •  
  •  nampo-2016



Die Oesdag het sy ontstaan te danke aan die inisiatief van drie produsente van Bloemfontein, Moos Haddad, Hannes van Wyk en George Stegmann. Vir mielieboere was die sestigerjare 'n oorgangstyd na grootskaalse meganisasie en losmaathantering van grane en daar was 'n wesenlike behoefte om trekkers en implemente eerder op 'n groter skaal onder werkende toestande te sien en te vergelyk as net een maatskappy wat sy produkte op jou plaas demonstreer.
 
Dié drie musketiers het die daad by die woord gevoeg en op 7 en 8 Junie 1967 is die eerste SAMPI Oesdag op Donkerhoek – die plaas van Hannes van Wyk – naby Bloemfontein gehou. In totaal het agt uitstallers deelgeneem en 203 mense het dit bygewoon. Hierdie beskeie begin was egter die ontstaan van 'n landbougefokusde, behoeftegedrewe handelskou wat konstant gegroei het en verlede jaar meer as 650 uitstallers en bykans 70 000 besoekers geakkommodeer het.
 
Aanvanklik is daar uitsluitlik op mielieproduksie gefokus – veral die meganisasie-aspek daarvan deur middel van beheerde demonstrasies op 'n niemededingende basis. Dit is sedert 2010 na statiese uitstallings en virtuele tentoonstellings op uitstallers se standplase verander en word deur spesialiste en bemarkingspersoneel beman. Namate kommersiële boerderye ter wille van volhoubare winsgewendheid begin diversifiseer het, het die Oesdagkomitee se keuse van uitstallers en die fasiliteite van die Oesdagterrein dinamies in pas gebly met nuwe ontwikkelings en die nuutste boerderytegnologie ten einde vandag so te sê aan elke faset van landbou aandag te gee.
 
“Die Oesdag is die perfekte geleentheid om nuwe tegnologie en ander produkte op een terrein met mekaar te vergelyk en te besluit watter produk, patent of tegnologie die beste op jou plaas toegepas kan word,” het Graan SA se uitvoerende hoofbestuurder, Jannie de Villiers, hieroor gesê.
 
’n Terugblik op die afgelope vyf dekades sal onvolledig wees sonder 'n verwysing na die reuse-aandeel wat die boere as lede van produsente-organisasies én talle vrywilligers hierin gehad het. Sedert die ontstaan daarvan, word die Oesdag besit en aangebied deur vrywillige graanprodusente-organisasies: Oorspronklik deur die eertydse Mielieprodusente-instituut, SAMPI, later – ná eenwording in die mieliebedryf in 1980 – deur die Nasionale Mielieprodusente-organisasie, NAMPO; en sedert die konsolidasie van graanorganisasies in 1999 tot vandag, deur Graan SA.
 
Graan SA beplan reeds die Vrydagmiddag 'n saamkuier en middagete om erkenning te gee aan hoofbestuurslede en ander vrywilligers asook personeel wat oor 50 jaar hulle tyd en energie aan die Oesdag gewy het. 'n Ererol wat vir dié doel saamgestel word, verskyn op die webtuiste by www.nampo.co.za. Persone wie se name nie tans daarop verskyn nie, word versoek om dit op die webtuiste by te voeg.
 
Die Oesdagvoorsitter, Cobus van Coller, reken dat dit veral tydens 'n droogtejaar belangrik is vir produsente om die Oesdag te besoek. Hy sê dit is noodsaaklik dat produsente met mekaar gesels, inligting uitruil en vasstel wat jy by jou boerdery kan voeg om verdere waarde toe te voeg.
 
De Villiers sluit hierby aan en herinner produsente en die gemeenskap dat die samesyn by die Oesdag altyd bemoedigend is en tydens hierdie swaarkrytyd soveel te meer só sal wees.
 
Graan SA se lede bly ’n topprioriteit en dié verbintenis word behoorlik tydens die Oesdag gevier. Graan SA se hoofbestuur en personeel sien daarna uit om ons lede by die ledelokaal te ontvang. Ter viering van NAMPO se 50ste aanbieding, gaan 'n interessante uitstalling oor die oesdaggeskiedenis in die ledelokaal te sien wees. Graan SA-lede sal per e-pos hulle toegangsreëlings ontvang.
 
Voorskou NAMPO 2016
Besoekers kan hulleself voorberei vir 'n oesdagweek wat 'n kombinasie van die nuutste meganisasietegnologie, 'n wye verskeidenheid insetprodukte, voertuie, toebehore en meer bied. Meer as 'n 90%-verteenwoordiging van groot- en kleinveerasse asook perde en selfs wildbedryfuitstallings is by die diere-afdeling te sien. Daaglikse veevertonings en 'n afslaerskompetisie in die veilingslokaal is ook op die spyskaart.
 
Sewe van die agt uitstallers wat aan die heel eerste Oesdag deelgeneem het, se produkte word steeds uitgestal, hoewel van hulle onder ander name. Verder duur die tendens van groeiende internasionale belangstelling deur beide uitstallers en besoekers voort en meer as 60 buitelandse uitstallers neem vanjaar aan die Oesdag deel.
 
Die saadplotte – wat verlede jaar 'n nuutjie was – beloof om 'n moeitewerd-besoekpunt vir landbouers te wees. Saadmaatskappye wat uitstal, het moeite gedoen om gewasse by die saadplotte te vestig. Neem kennis dat 'n vervoerwaentjie gereeld tussen die Saadkompleks en die saadplotte gaan loop.
 
Interessante dinge wat al 'n instelling geword het, is in 2016 weer deel van die program. Onder dié lysie tel die gewilde 4x4-demonstrasies, die Boerepatentekompetisie, die Engen museum en natuurlik 'n verskeidenheid restaurante, kiosks, ’n teetuin en wegneemete-stalletjies wat beskikbaar is. Die skoner geslag kan oudergewoonte uitsien na uitstallers wat op die fyner dinge in die lewe ingestel is. Maak gerus ook gebruik van die gratis trekker-en-waentjievervoerstelsel wat op die terrein beskikbaar is.
 
Deelnemende uitstallers se inligting en produkte is beskikbaar deur die NAMPO-toep (app) wat geskep is vir slimfone of tablette en gratis by jou aanlyn winkel van keuse beskikbaar is. Maak seker om dit voor die tyd af te laai ten einde inligting elektronies op die terrein te kan kry. Gebruik dié opwindende toep om spoor te sny na die nuutste landboutegnologie beskikbaar én na meer as een splinternuwe bakkiereeks wat op NAMPO Park te sien gaan wees.
 
Graan SA Radio saai gedurende die oesdagweek op die terrein uit en bied musiek, onderhoude en aktuele oesdaginligting. Die gewilde Nasie in Gesprek-program, wat tydens die Oesdag aangebied en verfilm word, trek opnuut Suid-Afrika se top denkleiers saam om gesprek oor aktuele sake te bevorder. Volg dit regstreeks op sosialemedia-platforms of agterna op verskeie TV-kanale.
 
Kaartjies is aanlyn beskikbaar op TicketPro se webtuiste by www.ticketpros.co.za of besoek www.nampo.ticketpro.co.za om direk na die NAMPO-blad te gaan. Alternatiewelik kan kaartjies by sekere afsetpunte, wat ook op dié webtuiste verskyn, of natuurlik by die hekke gekoop word. Oesdaggangers wat kaartjies vooraf koop, kry dit teen R10 per kaartjie goedkoper en hulle hoef nie deur die kaartjieskantoorhek te beweeg nie. Volg die aanwysings by die hekke vir persone met voorafgekoopte kaartjies. Kaartjies kos Dinsdag en Vrydag R90 per persoon by die hekke op en Woensdag en Donderdag R100 per persoon. Toegang vir voorskoolse kinders en parkering is gratis.
Die hekke open soggens om 07:00 en sluit smiddae om 17:00. Geen troeteldiere, fietse, karretjies of motorfietse word op die terrein toegelaat nie. Toegangsbeheer word op Maandag 16 Mei toegepas sodat uitstallers hulle finale afronding kan doen.
 
Onthou om ’n gratis programboekie by die toegangshekke te kry. Dit bevat 'n terreinkaart, uitstallerslys, 'n dagprogram en 'n uiteensetting van verversingspunte. Meer inligting en die dagprogram is ook aanlyn beskikbaar by www.nampo.co.za, www.grainsa.co.za of by nampo.mobi
 
NAVRAE: 
Johan Loxton, Bestuurder: Kommersiële Dienste, Graan SA
Tel: 086 004 7246
 





Related Articles